15 Februarie 2024
Die burgerregteorganisasie, AfriForum se hofsaak, waarin die onttrekking van waarnemende appèlregter Raylene Keightley, versoek word, het vandag in die Hoogste Hof van Appèl begin.
AfriForum se regspan het in 2023 ’n formele versoek gerig aan die registrateur van die Hoogste Hof van Appèl om te vra dat regter Keightley haarself onttrek van die paneel regters wat moet beslis oor AfriForum se appèlaansoek teen Julius Malema en die EFF se dreunsang van “Kill the Boer”.
LEES OOK: UITSPRAAK VOORBEHOU IN KILL THE BOER-SAAK
Die organisasie het dié aansoek gebring nadat dit aan die lig gekom het dat waarnemende appèlregter Keightley sterk menings téén AfriForum gehuldig het in ’n 2018-hofsaak.
AfriForum se uitvoerende hoof, Kallie Kriel sê in een van Keightley se kommentare het sy aangevoer dat AfriForum aan “anachronistiese standpunte” vasklou.
LEES OOK: “AFRIFORUM SE AANSOEK OOR KILL THE BOER-REGTER IS POLITIES,” MEEN EFF
“Regters wat die publiek reken duidelike vooroordele het wat hofuitsprake beïnvloed, ondermyn die publiek se vertroue in die land se regstelsel. AfriForum sal doen wat dit verg om te verseker dat die ‘Kill the Boer’-appèlsaak voortgesit word sonder enige regterlike partydigheid,” sluit Kriel af.
Uitspraak in dié saak is voorbehou.