16 September 2021
Die burgerregteorganisasie, AfriForum het vandag ’n brief aan die kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, Edward Kieswetter, geskryf waarin die organisasie duidelikheid vra oor die aangemelde uitstaande belastingskuld van die ANC.
AfriForum sê hy is bekommerd oor die pogings wat aangewend is om die ANC se beraamde 100-miljoen rand uitstaande inkomstebelasting in te vorder.
Volgens mediaberigte is daar wél inkomstebelasting van ANC-werknemers se salarisse verhaal maar nooit aan die SAID oorbetaal nie. Volgens die verslae gebeur dit al glo sedert 2018.
Die veldtogtebestuurder by AfriForum, Jacques Broodryk sê die organisasie wil onder meer weet watter stappe die SAID gedoen het om hierdie uitstaande bedrag van die ANC in te vorder en of formele stappe teen die party gevolg gaan word.
“In ’n tyd waar Suid-Afrikaners sukkel om die mas finansieel op te kom terwyl hulle toenemende belastingdruk ervaar, is dit absoluut onaanvaarbaar om te hoor van die ANC se belastingskuld en dat hulle nie gedruk word om inkomstebelasting te betaal nie – sou die berigte waar wees,” sê Broodryk.
Hy meen as die regerende party nie hul belasting betaal nie, sal gewone burgers hulle voorbeeld begin volg.
Stem vir die Aitsa’s