17 Augustus 2021
Die burgerregteorganisasie, AfriForum het vanoggend tydens ‘n mediakonferensie gesê dat hy van mening is dat daar geen juridiese of feitegrondslag bestaan om vanjaar se munisipale verkiesing uit te stel nie.
Dit vorm deel van AfriForum se aansoek aan die Grondwethof om as vriend van die Hof (amicus curiae) toegelaat te word. Hierdie aansoek sal Vrydag 20 Augustus virtueel deur die hof aangehoor word.
LEES OOK: OVK NADER GRONDWETHOF OM VERKIESING UIT TE STEL
Volgens Morné Mostert, bestuurder van plaaslikeregeringsake by AfriForum, is die Grondwet en die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture dit eens dat die munisipale rade se termyn nie oor langer as vyf jaar mag strek nie. “Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) moet daarom binne 90 dae ná verstryking van die vyfjaartermyn ’n verkiesing hou.”
Mostert meen Covid-19-modelle toon tans dat 27 Oktober – wat die huiduge datum vir die verkiesing is -tussen twee virus-golwe sal val.
LEES OOK: OVK AANVAAR AANBEVELINGS OM VANJAAR SE PLAASLIKE VERKIESING UIT TE STEL
Volgens hom gaan die uitstel van die verkiesing bloot nuwe uitdagings bring en nie die feit verander dat die verkiesing wel gehou moet word nie. “’n Vierde golf kan byvoorbeeld weer voorbereiding vir ’n latere verkiesing in die wiele ry.”
Hou Afrikaans op die lug