14 Januarie 2022
Die burgerregteorganisasie AfriForum, Maroela Media en Anlé Spies (’n 2021-matrikulant) het vandag hofstukke beteken op onder andere die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga om die departement se besluit – om nié die 2021-matriekuitslae in die media te publiseer nie – in die hof teen te staan.
Volgens Natasha Venter, bestuurder vir onderwysregte by AfriForum, dien die openbare opgewondenheid wat met die publisering van matriekuitslae gepaardgaan as motivering vir toekomstige matrieks. “Om die grootsheid van die geleentheid af te water, sal uiteindelik die strewe na uitnemendheid in onderwys ondermyn,” sê Venter.
LEES OOK: MATRIEKUITSLAE NIÉ MEER IN KOERANTE
Voorts, kan die departement volgens Venter nie agter die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting, 4 van 2013 (die sogenaamde POPI-wet) skuil om hierdie irrasionele besluit te regverdig nie.
“Slegs leerders se eksamennommers word op mediaplatforms gepubliseer, met ander woorde leerders se persoonlike inligting of identiteit word op geen wyse sonder hul toestemming bekendgemaak nie.”
Die dringende aansoek sal op 18 Januarie in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria aangehoor word voordat die matriekuitslae op 20 Januarie 2022 bekendgemaak word.