8 September 2022
Die Departement van Toerisme se appèlsaak is vandag in die Grondwethof aangehoor.
Die departement appelleer die 2021 uitspraak deur die Hoogste Hof van Appèl in Bloemfontein, in AfriForum en Solidariteit se guns, dat die gebruik van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) as kriteria vir die toerismefonds onwettig is.
In 2020 het Mmamoloko Kubayi-Ngubane, die minister van Toerisme, die Toerisme-ekwiteitsfonds as ’n instelling bekendgestel wat slegs lenings en toelaes aan ondernemings, wat minstens 51% swart eienaarskap het, sou toestaan.
Volgens AfriForum en Solidariteit is die toeken van hulpfondse op grond van ras onredelik, die Appèlhof het dít beaam en hierdie aksie van die departement as onwettig verklaar.
AfriForum se veldtogbeampte vir strategie en inhoud, Ernst van Zyl sê alle ondernemings, in besit van entrepreneurs van alle rasse, het gedurende die regering se Covid-19-inperkings gesukkel en menigte moes noodgedwonge hul deure vir altyd sluit.
Anton van der Bijl, hoof van regsake by Solidariteit sê dit is duidelik dat die staat vasbeslote is om sy rasse-agenda ten alle koste deur te voer. Uitspraak is voorbehou.