31 Maart 2021
Die burgerregteorganisasie AfriForum het ’n skrywe aan president Cyril Ramaphosa gestuur waarin die organisasie eis dat die minister van polisie, Bheki Cele, sy amp moet verlaat.
AfriForum meen die minister het herhaaldelik deur sy handelinge, nalatigheid en uitlatings bewys dat hy nie geskik is vir só ’n belangrike rol in ’n land wat lamgelê word deur misdaad nie.
AfriForum se regs- en risikobestuurder vir Gemeenskapsveiligheid, Marnus Kamfer sê die onlangse nuus dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens se interne stelsels – waarop onder meer bewysstukke gestoor en geliasseer word – al maande lank buite werking is, is maar net een só ’n voorbeeld.
Dié stelsel is afgeskakel glo weens beweerde wanbetaling deur die polisie.
Kamfer sê Cele se boeliehouding wanneer hy by polisie-operasies betrokke raak, word deur baie van sy ondergeskiktes nagevolg, met die gevolg dat die SAPD gereeld gewelddadig raak met lede van die publiek oor ongegronde redes.
Volgens hom het Cele selfs onlangs tydens ’n TV-onderhoud erken dat hy nie weet wie die hoof van misdaadintelligensie is nie. Kamfer sê sy houding is traak-my-nieagtig en sy persoonlike sienings oorskadu sy oordeel om sy werk na behore te doen.
Hoop, glo en leef in Afrikaans. Ondersteun Afrikaanse media hier en verseker só jou taal op die lug.