31 Mei 2023
Die burgerregteorganisasie AfriForum het ‘n skrywe aan die minister van justisie en korrektiewe dienste, Ronald Lamola gerig waarin hy duidelikheid eis oor die regering se planne om amnestie te gee aan landsburgers wat skuldig bevind is aan die oortreding van inperkingsregulasies tydens die nasionale ramptoestand vir die Covid-19-pandemie.
AfriForum se woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid, Jacques Broodryk sê die organisasie het ‘n aantal klagtes ontvang van mense wat nou deur ’n kriminele rekord geraak word omdat hulle nie “die dikwels belaglike inperkingsregulasies gehoorsaam het nie.”
LEES OOK: FORMELE SEKTOR STEEDS MINDER POSTE AS VOOR COVID-19-PANDEMIE
In een so ‘n voorval is daar tydens die staat van inperking ‘n pa in hegtenis geneem omdat hy, ná die aandklokreël in werking getree het, moes ry om formulemelk vir sy baba te koop.
Volgens Broodryk het die regering al voorheen dit laat blyk asof hierdie kriminele rekords uitgewis gaan word. “Ons wil weet wanneer dit gaan gebeur.”
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het in 2022 gesê meer as 400 000 mense is in hegtenis geneem vir die oortreding van regulasies gedurende die eerste jaar van inperking. Broodryk sê terwyl sommige waarskuwings ontvang het, het diegene wat ’n skulderkenningsboete betaal het kriminele rekords wat in die pad kan staan van toekomstige werksgeleenthede of oorsese reise.
LEES OOK: “VERLENGING VAN COVID-19-TOELAAG NIKS MEER AS ’N VERKIESINGSFOEFIE NIE,” SÊ AFRIFORUM
Hy sê in die brief eis AfriForum antwoorde by Lamola oor enige stappe wat deur die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste gedoen word om ’n vorm van amnestie en/of skrapping te voorsien vir Suid-Afrikaners wat Covid-19-inperkingsregulasies deur wetgewing oortree het.
