8 Januarie 2024
Die burgerregtegroep, AfriForum, het in ’n skrywe aan die Regspraktykraad geëis dat die raad se toelatingseksamens steeds in Afrikaans afgelê moet kan word.
Dit volg in reaksie op dié raad se kennisgewing aan kandidaatprokureurs dat toelatingseksamens voortaan slegs in Engels afgelê sal kan word.
Volgens AfriForum se hoof van Kultuursake, Alana Bailey, sou die raad se verduideliking – dat die afskaffing van Afrikaanse eksamens eintlik ’n regstelling is – lagwekkend gewees het as dit nie so kommerwekkend was nie.
Bailey sê die raad se verduideliking dat Afrikaanse kandidate onregmatig bevoordeel word omdat die eksamens nie in enige ander inheemse taal afgelê kan word nie, hou nie water nie.
Sy sê die korrekte oplossing is om taalregte uit te brei en die eksamenmateriaal in meer tale beskikbaar te stel.