12 Julie 2022
Die burgerregteorganisasie AfriForum eis dat president Cyril Ramaphosa die minister van Polisie, Bheki Cele, onmiddellik moet afdank.
Cele het vroeër vandag tydens ‘n besoek in Soweto gesê dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) die afgelope twee jaar meer as 1 300 speurders verloor het. AfriForum se veldtogtebestuurder, Jacques Broodryk sê in ’n land waar 67 mense daagliks vermoor word, is dit onaanvaarbaar dat hierdie personeel nie vervang is nie.
LEES OOK: OPVOLG: SPAN VAN 11 SPEURDERS AANGEWYS OM TAVERNE-SKIETVOORVAL TE ONDERSOEK
Broodryk sê in nog ’n skokkende voorval by ’n gemeenskapspolisiëringsvergadering in Gugulethu, het Cele herhaaldelik op Action Society se Ian Cameron geskree “shut up!” en “get out!”.
“Hierdie ontstellende voorval was slegs die jongste in ’n lang lys van voorvalle en mislukkings, wat AfriForum in hul brief uiteensit, wat Cele se ongeskiktheid vir sy posisie demonstreer.”
Volgens Broodryk kan daar nog talle ander voorvalle by dié lys gevoeg word. “Cele is die afgelope paar dae ook na bewering betrek by ’n 2010 Fifa Wêreldbeker-akkommodasietenderskandaal van R47 miljoen.”
LEES OOK: CELE BESOEK SOWETO TAVERNE NA SKIETVOORVAL
“Bheki Cele het al keer op keer gewys dat hy nie die vaardighede en temperament het om sy kritieke posisie te vul nie. Ministers wat nie opgewasse is vir hul posisies nie, het lank genoeg misluk en hulle growwe wangedrag het vir lank genoeg ongestraf verby gegaan,” sê Broodryk.