10 Januarie 2023
Die burgerregteorganisasie, AfriForum eis antwoorde van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) rakende hul belofte om die EFF-leier Julius Malema hof toe te neem vir haatspraak.
AfriForum, duisende van sy lede, én lede van die publiek het klagtes by die MRK ingedien oor uitlatings wat Malema gemaak het tydens ’n EFF-vergadering verlede jaar.
Die MRK het aan Malema skriftelik kennis gegee om die stellings, wat die MRK bevind haatspraak en aanhitsing tot geweld is, terug te trek en om verskoning te vra.
Sou Malema versuim het om aan hierdie eise te voldoen, het die MRK belowe om Malema na die Gelykheidshof te neem om ’n tussentydse interdik te verkry.
AfriForum het in ‘n prokureursbrief versoek dat die MRK terugvoering moet gee of Malema wel verskoning gevra het en óf die kommissie toe wel die Gelykheidshof genader het daaroor.
Malema het onder meer tydens die geleentheid gesê dat mense nie bang moet wees om dood te maak nie en dat ’n rewolusie vereis dat daar op een of ander punt doodgemaak moet word.