25 Mei 2021
Die burgerregte-organisasie, AfriForum sê hy eis antwoorde rakende die beweerde vernietigende gedrag van ‘n Suid-Afrikaanse diplomaat, advokaat David Kweli Nkosi.
Dit het in Augustus verlede jaar aan die lig gekom dat Nkosi na bewering skade van nagenoeg R714 000 aangerig het aan sy huurwoonstel in Wene. Daar is egter nou soortgelyke aantygings teen hom gemaak by sy vorige sending.

Nkosi het glo tot nou toe nie die R53 612 terugbetaal vir skade aangegaan terwyl hy ’n diplomaat in Indië was nie.
AfriForum se veldtogtebeampte vir strategie en inhoud, Ernst van Zyl sê die organisasie se regspan het vandag ’n formele PAIA-versoek en aanmaningsbrief aan die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking – Dirco – gestuur oor die bewerings.
Van Zyl sê die organisasie het voorheen ‘n brief gestuur aan die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Naledi Pandor, en Dirco rakende die Wene-insident, maar het nog geen antwoord ontvang nie.
Volgens hom glo die organisasie dat Nkosi uit sy eie sak vir die skade moet betaal. “Daar kan nie van Suid-Afrikaanse belastingbetalers verwag word om op te dok vir die voortgesette vernietigende optrede van ’n diplomaat nie.”
AfriForum wag vir ’n spoedige antwoord van DIRCO.