8 Februarie 2022
Die burgerregteorganisasie, AfriForum, het in ’n skrywe aan die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele sake, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, geëis dat die nuwe afsonderingsregulasies – wat poog om mense in kwarantynkampe te dwing – geskrap word.
Volgens nuwe regulasies wat in die Staatskoerant gepubliseer is, mag geen persoon – wat deur ’n laboratoriumtoets as COVID-19 positief aangedui word – weier om in ’n gesondheidsinrigting opgeneem te word vir isolasie of behandeling nie.
Die organisasie beweer dat die regulasies nie voorsiening maak dat iemand tuis mag isoleer nie.
AfriForum het in Junie 2020 ’n oorwinning in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria behaal toe Regter Louw die organisasie se dringende aansoek toegestaan het om die minister se kwarantynregulasies – wat toe ook selfisolasie verbied het – ongeldig te laat verklaar.
Die bestuurder van veldtogte by AfriForum, Jacques Broodryk, sê dit is baie vreemd dat die minister nou weer so ’n regulasie wil instel, siende dat die hof reeds in die verlede teen die minister uitspraak gelewer het in ’n soortgelyke geval.
“As die minister versuim om hierdie wysigings aan te pas, sal ons dit beslis weer in die hof bestry,” sê Broodryk.