Die burgerregteorganisasie, AfriForum sê hy het insette ingedien op die Tshwane-metro se konsep Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) vir die 2025/2026-boekjaar waarin die burgerregteorganisasie sy kommer laat hoor het oor die toestand van munisipale infrastruktuur, onvoldoende dienslewering en onbillike tariefverhogings.
AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord, Llewellynn Hemmens sê die organisasie het terselfdertyd oplossings voorgestel en weer gesê dat hy bereid is om saam met die metro te werk om oplossings vir hierdie probleme te vind.
Hy sê inwoners moet daagliks met gebarste pype, donker strate, vuil parke en onwettige stortingsterreine saamleef.
Hemmens sê die GOP moet nie net ’n administratiewe dokument wees nie, maar ’n daadwerklike reaksie op die inwoners se werklikhede.
AfriForum versoek ondermeer in sy insette dat daar aandag gegee word aan:
- Verval van waterinfrastruktuur: Gebarste pype en lae druk
- Substasie-sekuriteit: Slim tegnologie eerder as duur wagte
- Stadsreinigingstarief: Onregverdige ekstra las op belastingbetalers
- Algemene infrastruktuurkrisisse
Die organisasie het ook klem gelê op probleme soos verwaarloosde begraafplase, afwesige padtekens, gevaarlike voetpaadjies, en die verval van die Hennopsrivier.