13 Desember 2021
AfriForum se regspan sal môre (14 Desember) ’n dringende aansoek in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria bring om die nasionale aandklokreël tersyde te laat stel.
Dit volg ná die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele sake, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, geweier het om op AfriForum se eise te reageer om die bewyse te verskaf waarop die besluit om die reël in te stel, gebaseer is.
Die organisasie se veldtogtebestuurder, Jacques Broodryk sê hulle het onder meer versoek dat die minister ook bewyse moet lewer ter ondersteuning van die effektiwiteit van die aandklokreël as voorsorgmaatreël teen COVID-19.
Broodryk meen die aandklokreël en ’n ses maande kriminele sanksie wat opgelê kan word vir die oortreding van dié reël is irrasioneel, onwettig en ongrondwetlik en behoort hersien en tersyde gestel te word.