12 April 2023
Die burgerregte-organisasie, AfriForum het ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting aan die Universiteit van Johannesburg beteken, na aanleiding van beweerde bedrog en korrupsie op bestuursvlak tussen 2014 en 2017.
Volgens AfriForum se veldtogbeampte belas met strategie en inhoud, Ernst van Zyl, het die aansoek dit ten doel om inligting te kry oor die beweerde kaping van die intellektuele eiendom van die voormalige dosent, Prof. Vivian Alberts.
Van Zyl sê die aansoek volg nadat dit bekend geword het dat tegnologie vir die vervaardiging van dunlagiesonselle op ’n onwettige wyse – en sonder Alberts se medewete – deur uitvoerende rolspelers en raadslede van die universiteit na ’n privaatmaatskappy oorgedra is.
Alberts het die selle – wat wêreldwyd gepatenteer is – by die universiteit ontwikkel.