9 Junie 2021
Die afgedankte skoolhoof van die hoërskool, Parktown Boys’ High in Johannesburg, Malcolm Williams moet weer in sy pos aangestel word.

DIT nadat hy in Oktober verlede jaar afgedank is ná ‘n voorval waarin ‘n graad 8-leerling van dié skool op 15 Januarie 2020 tydens ‘n oriënteringskamp verdrink het. Die dood van Enock Mpianzi het wyd opspraak gemaak en vrae is na die voorval gevra oor of die skool verantwoordelik opgetree het.
Williams is tydens ‘n tugverhoor skuldig bevind aan twee aanklagte van wangedrag.
Volgens die Suid-Afrikaanse Onderwysersvakbond, moet die onderwysdepartement in Gauteng nou vir Williams weer aanstel nadat die Raad op Arbeidsverhoudinge in die Onderwys bevind het dat sy afdanking nie substantief en prosedureel geregverdig was nie.
Hy moet volgens die uitspraak op 1 Julie terugkeer skool toe met dieselfde posbeskrywing en voordele as voor sy afdanking.
