Nuuskommentaar: 29 Junie
Deur: Jaco Kleynhans
Terwyl die president van Afganistan Vrydag op besoek aan die Amerikaanse President was, het beheer oor een distrik na die ander in die noorde van sy land in die hande van die Taliban beland. Duisende Taliban-vegters is besig om ‘n verwoede stryd teen die verswakte weermag en veiligheidsdienste van Afganistan te voer, terwyl die laaste Westerse soldate en privaat kontrakteurs uit dié land onttrek.
President Ashraf Ghani het Vrydag die Amerikaners versoek om sy regering by te staan in die stryd teen die Taliban selfs nadat Amerika se laaste soldate onttrek het. Dit sal later vanjaar presies twintig jaar wees sedert die Amerikaanse regering oorlog teen die Taliban in Afganistan verklaar het.
Die voormalige president van Afganistan, Hamid Karzai, het verlede week in ‘n onderhoud met die Associated Press gesê dat die Amerikaanse weermag en ander Navo-magte in Afganistan betrokke geraak het om ekstremisme te beveg en stabiliteit te bring. Nou dat Westerse magte onttrek is Afganistan heeltemal gedestabiliseer en kan die land maklik in ‘n burgeroorlog verval. Ekstremistiese organisasies soos die Taliban is ook sterker as in baie jare.
Die nuut aangestelde waarnemende minister van verdediging van Afganistan, Bismillah Khan Mohammadi, het verlede week gesê dat die regering nou amptelik die bewapening van burgermaggroepe ondersteun. Dit volg nadat soldate van Afganistan die afgelope paar weke in tientalle distrikte, veral in die noord van die land, deur die Taliban verslaan is. Die regering se besluit om burgermagte te bewapen is ‘n erkenning deur die regering dat hulle nie oor die vermoë beskik om self die Taliban se opmars te stuit nie. Verlede week het die Taliban selfs beheer geneem oor ‘n grenspos tussen Afganistan en Tadjikistan.
Hoop is besig om te vervaag dat ‘n politieke skikking tussen die regering van Afganistan en die Taliban bereik kan word. Dit is duidelik dat die Taliban eerder gaan poog om deur geweld weer beheer oor die grootste deel van die land te kry. Terwyl die regering begin om gewone burgerlikes te bewapen, is ‘n volskaalse gewapende stryd met die Taliban toenemend die meer realistiese uitkoms nadat Westerse magte die land verlaat het.
Die land se geskiedenis is ingewikkeld en word deur konflik gekenmerk. Reeds in die agtiende eeu was Afganistan die kruispad vir Britse en Russiese belange. Tydens die negentiende eeu is die land voortdurend deur konflik, staatsgrepe, burgeroorlog en in die 1980’s ‘n oorlog met die Sowjetunie gekenmerk. Dit is opgevolg deur ‘n burgeroorlog en uiteindelik tot 2001 die Taliban se ekstremistiese wurggreep op die land. Die meeste gewone burgers wil egter hulle vryheid beskerm en is teen ekstremisme gekant. Die enigste manier om die Taliban te keer, blyk egter ‘n grootskaalse gewapende burgerlike stryd te wees. Gedurende Mei vanjaar was daar meer as 4300 terreur verwante sterftes in Afganistan. Burgerlike sterftes weens die konflik het tydens die eerste kwartaal van vanjaar met 29% gestyg. Die land is reeds besig om in grootskaalse geweld te verval en ‘n burgeroorlog kan nie uitgesluit word nie. Westerse lande moet ‘n belangrike les of twee hieruit leer en toekomstige betrokkenheid deur die VSA en Navo in die Midde-Ooste moet meer strategies beplan word.