22 Mei 2023
‘n 17-jarige leerling van die Afrikaanse Hoër Meisieskool is in haar slaap by haar ouerhuis in Pretoria oorlede.
Annerien Mills se afsterwe kom slegs twee dae ná ‘n video van die Affies jeugsimfonieorkes se optrede by die C&N Sekondêre Meisieskool Oranje in Bloemfontein wyd op sosiale media versprei is.
Mills was ‘n fluitspeler in die jeugsimfonieorkes.
LEES OOK: NIE EERS ESKOM KLOP DIE KRAG VAN KLANK
Netwerk24 berig dat Mills nie Saterdagmiddag wakker geword het nadat sy op haar bed ná die busrit van Bloemfontein aan die slaap geraak het nie.
Sy is na bewering weens ‘n hartkwaal oorlede.
Die skool se hoof, Marna Jordaan sê Mills was ‘n Affie in murg en been. “Sy was in 2020 tydens die Covid-19-pandemie in graad 8. Die groep kinders is ‘beroof’ van soveel geleenthede by die skool waarna hulle jare uitgesien het. Die geleentheid om dus uiteindelik as skool na Bloemfontein te reis was des te meer ‘n onvergeetlike uitstappie.”