6 Julie 2021
Oud-president Jacob Zuma se hofaansoek, om sy inhegtenisname op te skort, duur steeds voort in die Pietermaritzburg hooggeregshof.
Sy regsverteenwoordiger advokaat Dali Mpofu het vroeër vanmiddag aangevoer dat die betrokke persone in die aansoek – ten opsigte van die inhegtenisname – nié die aansoek teenstaan nie. Dit sluit die polisieminister, Bheki Cele, die nasionale polisiekommissasier, Khela Sitole en president Cyril Ramaphosa in.
Volgens Mpofu het die staatskapingskommissie, sy voorsitter, adjunk hoofregter Raymond Zondo en die Helen Suzman-stigting dié aansoek teengestaan.
Hy meen dié drie, wat die aansoek teenstaan het geen belange in Zuma se aansoek om sy gevangenisstraf op te skort nie. Volgens Mpofu is hulle belange by die Grondwethof en Zuma se aansoek, wat op 12 Julie aangehoor word.
Die regsverteenwoordiger vir die Zondo-kommissie en Zondo, advokaat Tembeka Ngcukaitobi sê Zuma verontagsaam sedert Sondag die huidige bevel, om nie eens te praat van die bevel waarvolgens hy skuldig bevind is nie.
“Ek is nie hier om oor die polisie se optrede te praat nie, maar Zuma het letterlik op sy eie die reg in eie hande geneem. Dit alleenlik moet gronde wees om hierdie aansoek van die hand te wys.”
Die sitting duur voort.