19 Augustus 2022
Die minister oor gesondheid, dr. Joe Phaahla en sy adjunk, dr. Sibongiseni Dhlomo hou vanoggend ‘n mediakonferensie oor die verskyning van aappokke in die land.
DIT kom nadat die vyfde bevestigde geval van aappokke vroeër vandeesweek in Suid-Afrika aangemeld is. Dié 28-jarige man was onlangs in Spanje, waar meer as 5-duisend gevalle al aangemeld is.
Volgens Phaahla is daar tans geen inentings vir aappokke in die land nie, maar wêreldwyd is daar drie entstowwe beskikbaar. Hy sê aappokke is soortgelyk aan pokke, en sy inentings is reeds in 1982 stopgesit.
Hy sê volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) is daar wêreldwyd tans net meer as 28 000 gevalle van aappokke, maar dat dit nog nie tyd is vir ‘n massa-inentingsveldtog nie. Phaahla sê hulle sal die situasie volg, en indien dit nodig is vir inentings dan sal die gesondheidsreguleerder, SAHPRA geraadpleeg word.
LEES OOK: VIERDE GEVAL VAN AAPPOKKE IN SUID-AFRIKA AANGEMELD
Wat Covid-19 betref, is dit twee maande sedert alle inperkingsmaatreëls, insluitend die dra van maskers gelig is. “Sedert die beëindiging van die pandemie het minder mense aangedui dat hulle simptome ervaar.” Hy meen dit dien as ‘n bewyse dat die regering op die regte tyd die regulasies opgehef het.
Hy sê op ‘n nasionale vlak hou die regering, en die Nasionale Instituut vir oordraagbare siektes (NIOS) steeds die gevalle deurlopend dop.
Volgens Phaahla is die Covid-19-inenting steeds die beste manier om die virus te beveg. “Ek is ‘n goeie voorbeeld van hoe die intenting ernstige siekte kan voorkom. Ek het op 19 Julie positief getoets vir Covid-19, maar het danksy die inenting slegs ligte simptome getoon, wat slegs vier dae geduur het.”
Hy sê die gesondheidsdepartement het gehoop dat meer mense hulle sal laat inent, maar is steeds tevrede met die meer as 37,3-miljoen dosisse wat toegeken is.