Nuuskommentaar: 12 Mei 2022
Deur: Johnell van Vollenhoven
In ʼn land met een van die hoogste jeugwerkloosheidsyfers in die wêreld en met ʼn onderwysstelsel in sowel basiese as hoër onderwys wat stelselmatig verswak en minder resultate oplewer, sou ʼn mens dink dat ingryping deur die betrokke regeringsdepartemente aan die orde van die dag sou wees deur met ʼn plan vorendag te kom waardeur kinders en studente gehalteonderrig en -opleiding kan ontvang sodat hulle toegerus is om die arbeidsmag te kan betree.
Tog sien ons dat die aard van die ingryping nie ten gunste van gehalteonderrig, die voorsiening van hulpbronne of die oprigting van skole is nie. Die ANC-regering beywer hom eerder vir ʼn heel ander geveg – die taalgeveg.
In hierdie geveg steur hy hom min aan die positiewe resultate wat moedertaalonderrig oplewer. Hy stel nie belang in die swak akademiese prestasie van sy kinders wat sukkel omdat hulle bloot nie die onderrigtaal verstaan nie. Hy het slegs een doel voor oë – die uitwis van Afrikaans as onderrigtaal en die afskaffing van grondwetlike regte met betrekking tot onderrig in die taal van jou keuse.
Wat ek verder opvallend vind, is dat Afrikaans die enigste taal is wat openlik in die spervuur is, die enigste onderrigtaal waaraan menslike eienskappe soos rassisme en onderdrukking toegeskryf word en die enigste taal wat gebruik word om haat aan te vuur.
Dit is vreemd dat die energie wat gebruik word om een taal aan te val nie eerder aangewend word om ander tale as akademiese tale te ontwikkel nie. Daar word nie nuwe skole gebou om die groeiende bevolking se kinders te kan akkommodeer nie, en hul welstand en akademiese ontwikkeling blyk heel laaste op die lys te wees elke keer wat die regering daarop aandring om van elke Afrikaanse skool of tersiêre instelling ʼn Engelse een te maak.
Dat een regering so ʼn haat jeens en afsku van ʼn minderheid se taal tot so ʼn mate kan ontwikkel dat hy toelaat dat infrastruktuur, die ekonomie en onderwys in die geheel basies in duie stort, is verstommend . Dat sy visie so versper en sy aksies so kortsigtig is dat hy die meerderheid wat hom aan bewind gestel het, versaak en verder in armoede dompel omdat hy nie die visie het om te kan ontwikkel, bou en te laat groei nie, is verregaande.
Die Afrikaanse gemeenskap aan die ander kant, handhaaf hom sterk en laat hom geld teenoor die meerderheid wat hom met soveel vasberadenheid probeer onderdruk. Ywerig belê hy in sy taal deur dit te ontwikkel en kinders daarin te onderrig. Deur die kunste maak hy van die woorde in boeke en op papier ʼn lewende ervaring; ʼn lewende taal.
Die verset teen die taal en haar mense word motivering vir groei. Oral word Afrikaanse privaat skole en tersiêre instellings gebou. Kursusse word in Afrikaans aangebied. Kinders ontvang onderrig en opleiding van wêreldgehalte. Hulle leer, hulle bekwaam hulle en hulle presteer. Hulle styg uit en raak kenners op hul gebied, leiers in hul gemeenskappe.
Onderdrukking is onsuksesvol. Waar meertaligheid ten koste van een taal afgedwing word, bly slegs een enkele taal oor. Hierdie verskynsel lei tot verval; soveel voorbeelde van skole en instellings wat reeds in die hek geduik het en waar standaarde getuimel het, bewys dit.
Politieke agendas kan nie die uitweg wees nie. Slegs outonome gemeenskappe wat na vore tree en self verantwoordelikheid aanvaar – vir onderrig, opleiding, ontwikkeling, groei en die algehele welstand van sy gemeenskapslede – is die uitweg. En taal bly ʼn integrale deel daarvan. Dit is ʼn praattaal, leertaal, werkstaal en ʼn amptelike taal in hierdie land.