Nuuskommentaar: 10 Junie 2022
Deur: Mari Oosthuizen
Die skuldigbevinding van die Pretoria-man, wat sy vervreemde vrou Nicoleen Swart verskeie kere aangerand het, het vandeesweek opslae gemaak.
Beeldmateriaal is versprei waarin gesien kan word hoe Jaco Swart sy vrou skop, slaan en stamp. Wat dit egter meer skokkend maak is die boete van R20 000 wat Jaco opgelê is. Hy is ook tot gevangenisstraf van drie jaar gevonnis, wat vir vyf jaar opgeskort is.
Uit die aard van die saak is mense woedend omdat ‘n vrou aan die hand van ‘n man – haar man – op hierdie wyse moes ly. Die fisiese leed wat aan Nicoleen, en so veel ander vroue aangerig is, is tydelik, maar dit is die emosionele pyn wat blydend is.
Tussen Oktober en Desember 2021 is 902 vroue vermoor. 232 van dié moorde het ‘n direkte verband met huishoudelike geweld. Gedurende dieselfde tydperk is 11 315 sake van verkragting aangemeld.
In elke saak, moet ‘n mens egter oor die vermoë beskik om ‘n treetjie terug te gee en na die groter prentjie te kyk.
Teen vroeg 2022 het Suid-Afrika die derde meeste aantal selfdood gevalle wêreldwyd aangeteken. Van die 13 774 selfdood gevalle wat die afgelope jaar in Suid-Afrika aangemeld is, het 10 861 mans hulle eie lewe geneem. Dit gee ‘n aanduiding dat geestesgesondheidstoestande ‘n werklikheid is – nie net vir vroue nie, maar ook vir mans.
Suid-Afrikaanse mans is dikwels geleer om nie te huil of emosie te wys nie. Ons oupas en pa’s is ook geleer dat sielkundiges en antidepressante ’n mors van geld is. Miskien is dit waar die probleem in die eerste plek begin.
Gebroke volwassenes, maak gebroke kinders en kinders maak gebroke kleinkinders. Hiermee praat ek nie Jaco Swart se gedrag goed nie – alles behalwe – maar miskien moet ons net weer dink oor die kind wat jy grootmaak en wat jy wil hê hy/sy moet bydrae tot die samelewing.
Jy kan nie verwag dat ‘n kind sy toekomstige vrou met respek gaan behandel as hy daagliks sien hoe sy pa sy ma sleg behandel nie (of andersom). Net so gaan hy ook nie leer hoe om liefdevolle verhoudings te handhaaf as hy permanent aan die ontvangkant staan van gille en houe nie.
Luidens ‘n studie deur die Suid-Afrikaanse Vereniging van Psigiaters het minstens een uit elke sewe kinders in Suid-Afrika ‘n behandelbare geestesgesondheidstoestand, maar hulle sal dit waarskynlik tot in volwassenheid saam met hulle dra weens Suid-Afrika se tekort aan spesialiste en fasiliteite om hul unieke behoeftes te ondersteun.
Miskien sal aanranding, moord, woede, padwoede en seksuele misdrywe afneem as daar meer aandag geskenk word aan geestesgesondheid en as die Suid-Afrikaanse regering beter ondersteuning bied.
Ek sê weer – Jaco Swart moet verantwoording doen vir sy dade, maar misken net miskien kon dié verhaal ‘n ander einde gehad het as hy van kindsbeen af geleer is hoe om mense lief te hê en hoe om dit te wys.