1 September 2021
‘n 98-jarige vrou, Khatija Jeeva Mohammed van Centurion is die 10 000ste persoon, wat vanoggend haar Covid-19-inenting by die Zwartkops-renbaan se deurry-inentingslokaal ontvang het.
Mohammed sê sy is so gelukkig om uiteindelik haar inenting te kon ontvang en het ‘n beroep op oud en jonk gedoen om ingeënt te word. “Dit is onnodig om bang te wees vir die inenting. Kom ons doen almal ons deel om lewens te red.”

Die sosiale aktivis, Yusuf Abramjee sê Mohammed is die oudste persoon wat by dié lokaal haar inenting ontvang het. Volgens hom is Mohammed in 1923 in Marabastad gebore, maar woon deesdae in Centurion.
“Ek onthou my ouers het my van die 1918 pandemie vertel en sal nie wil hê dat Suid-Afrika weens Covid-19 dieselfde paadjie moet loop nie,” sê Mohammed. Die sogenaamde Spaanse griep-pandemie in 1918 het in sy twee jaar van bestaan tot meer as 50-miljoen mense se dood gelei. In Suid-Afrika is nagenoeg 500 000 mense van die land se destydse bevolking van 7-miljoen mense, dood.
Die burgemeester in die Tshwane-metro, Randall Williams het Mohammed by die inentingslokaal besoek. Hy het haar gelukgewens met dié besluit en meen as ‘n 98-jarige bejaarde die inenting kan ontvang kan almal dit doen.
Williams het opnuut ‘n beroep op mense ouer as 18 jaar oud gedoen om ingeënt te word.
Hou Afrikaans op die lug