19 Mei 2021
70 mense is in hegtenis geneem in verband met die voortslepende betogings in Bloemfontein.
Die groep, wat die betoging lei, Mangaung Community Concern sê die betoging sal volgens hulle eers verby wees wanneer hulle ‘n geskrewe dokument ontvang waarin daar aandag gegee word aan hulle eise.
Die groep betoog sedert Sondagaand onder meer weens dienslewering. Hulle wil ook hê dat die Mangaung-metro-raad moet ontbind.
Aanvanklik is 30 mense in hegtenis geneem, maar volgens die polisiewoordvoerder, brigadier Motantsi Makhele is nog mense in onderskeidelik Zastron en Botshabelo vasgetrek weens openbare geweld.
LEES OOK: BLOEM-ONLUSTE: STADSBESTUURDER SE TOEKOMS BESPREEK
Die 57-jarige veiligheidswag wat na bewering ’n 15-jarige tienerseun, Jevano Liam Siege in die onluste doodgeskiet het, het vanoggend in die hof verskyn. Hy is op borgtog van R1000 vrygelaat en sy saak is tot 9 Junie uitgestel.
Die premier van die Vrystaat, Sisi Ntombela het ook gister met van die rolspelers vergader in ‘n poging om ‘n einde te bring aan die onluste in die Rosestad.
Daar is op die vergadering ooreengekom dat die kop van die Mangaung-metro se stadsbestuurder, advokaat Tankiso Mea, moontlik sal rol, soos deur die betogers geëis is.
’n Spesiale raadsvergadering sal na verwagting môre in Bloemfontein gehou word waarop die aangeleentheid oor Mea se skorsing hanteer sal word.