21 Junie 2022
‘n 5-jarige seuntjie van Houston in Amerika is dood nadat hy glo vir ure in ‘n geslote motor gelaat is, terwyl sy ma vir ‘n verjaarsdagpartytjie voorberei het.
Die nuusdiens, CNN berig dat die motor buite die gesin se huis geparkeer was, terwyl die nodige voorbereidings gistermiddag vir die seun se sussie se 8ste verjaarsdagpartytjie getref is.
Die polisiehoof, Ed Gonzalez sê die ma was haastig om alles betyds gereed te kry en het van haar seun in die motor vergeet. “Sy het eers 2- of 3 ure later besef dat die kind steeds met die veiligheidsgordel in die motor vasgemaak is.” Hy sê die kind kon nie uit die motor kom nie omdat dit gesluit was.
Die kind is op die toneel dood verklaar. Volgens Gonzalez is dit nog onduidelik of die ma enige aanklagte in die gesig staar.
Volgens CNN het die temperatuur gister ‘n rekord hoogte bereik, met 101 grade Fahrenheit, of sowat 39 grade Celsius.