8 Mei 2024
Reddingspogings duur vandag in Victoriastraat in George in die Wes-Kaap voort nadat ‘n halfgeboude woonstelblok Maandagmiddag ineengestort het.
Die George munisipaliteit het teen 09:00 vanoggend in ‘n verklaring bevestig dat 36 mense reeds onder die puin uitgehaal is. Sewe van dié mense is dood, 16 is in ‘n kritieke toestand, terwyl die ander 13 beseer is.
39 van die 75 oorspronklike konstruksiewerkers op die toneel word ook steeds vermis.
Meer as 200 reddingswerkers spook om oorlewendes onder die puin uit te haal. Volgens die Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, Anton Bredell is daar ook reddingswerkers van Gauteng op die toneel om met die reddingspogings te help.