9 Mei 2022
‘n 29-jarige sakeman van Brits is een van twee slagoffers wat gedurende die naweek op die N4-hoofweg deur booswigte geteiken en doodgeskiet is.
Juandré Kidson was Saterdagaand saam met sy vrou, Johanette en hulle 1-jarige dogter op die N4 naby die R512-afrit toe hy deur drie mans geteiken is, terwyl hy besig was om sy band om te ruil. Hy is in die kop geskiet en is later op die toneel dood verklaar.
Sy vrou is in haar skouer geskiet. Die gesin was op pad terug na hulle huis in Brits vanaf Rustenburg toe die voorval plaasvind.
Die pap band was na bewering die oorsaak van klippe wat glo opsetlik in die pad deur die misdadigers geplaas is.
Huldeblyke stroom intussen op Kidson se Facebook-blad in nadat sy identiteit bekend gemaak is.
Later dieselfde aand is ‘n ander man op die N4 doodgeskiet onder soortgelyke omstandighede. Sy identiteit is nog nie bekend nie.