14 Junie 2023
Gauteng het meer as ‘n kwart – 27,2% – van die misdaad tot die nasionale algehele misdaadstatistieke vir die vierde kwartaal van die 2022/2023-boekjaar bygedra.
Gauteng se polisiekommissaris, luitenant-generaal Elias Mawela, het vanoggend die provinsie se misdaadstatistieke vir dié tydperk bekend gemaak.
‘n Algehele toename in misdaad van meer as 2 000 aanklagte is gedurende Januarie en Maart vanjaar aangemeld. Daar was ook ‘n beduidende toename in geweldsmisdade in dié tydperk aangeteken.
Gevalle van moord, poging tot seksuele aanranding en transito-rooftogte het ook toegeneem. Daar is in drie maande 27 transito-rooftogte aangemeld – dit is vyf meer as dieselfde tydperk ‘n jaar gelede.
Mawela sê hoewel die gevalle van misdaad hoog is, het die bydrae tot die nasionale misdaadstatistiek in die afgelope vyf jaar afgeneem van 28,2% tot 27,2%. Hy sê Gauteng se bydra tot die nasionale misdaadstatistiek sal altyd hoog bly weens die hoeveelheid mense wat in die stad woon.
Hy meen ‘n groot aantal mense verhuis ook jaarliks na Gauteng weens die finansiële moontlikhede.
