8 April 2022
Die polisie het 27 onwettige immigrante in Diepsloot, in Gauteng, aangekeer tydens ‘n deurnag-operasie.
Dit bring die aantal uitlanders wat die afgelope week aangekeer is op meer as 50 te staan, terwyl die polisie ook begin het met ‘n ondersoek na die jongste voorval waartydens ‘n buitelander deur lede van die gemeenskap doodgemaak is.
LEES OOK: MINISTERS BESOEK WEER DIEPSLOOT TE MIDDE VAN VREEMDELINGEHAAT
Betogings is die hele week al aan die orde van die dag weens die ontevredenheid oor swak dienslewering, gebrekkige polisiëring en onwettige immigrante in die gebied.
‘n Woordvoerder van die polisie, Athlenda Mathe sê hulle doen weer ‘n beroep op die gemeenskap om nie die reg in eie hande te neem nie en die gereg die kans te gee om sy gang te gaan.
Die minister van polisie, Bheki Cele sal weer vandag die woonbuurt besoek en sal na verwagting dié keer deur die minister van binnelandse sake, Aaron Motsoaledi, vergesel word.