8 April 2021
Die polisie in Limpopo soek nog na vier verdagtes wat 185 nuwe skootrekenaars van die departement van landelike ontwikkeling in Pietersburg/ Polokwane gesteel het.
Dié skootrekenaars is ongeveer R4-miljoen werd en is in die vroeë oggendure van Dinsdag gesteel.
Volgens die polisiewoordvoerder, brigadier Motlafela Mojapelo het die vier verdagtes glo twee veiligheidsbeamptes oorrompel waarna hulle die skootrekenaars op trollies uit die gebou gestoot het en dit in die onderdakparkeerterrein van dié gebou op ’n bakkie gelaai het.
Die voorval is op kringtelevisie-beeldmateriaal vasgevang. Mojapelo sê die veiligheidswagte is nie gedurende die voorval beseer nie.
Die ondersoek duur voort.