29 Augustus 2023
Die Regspraktykraad sê hy ondersoek 14 prokureurs oor die wyse waarop hulle geld bestuur nadat hulle multimiljoenrand-skikkings aangegaan het namens kinders wat ernstig gestremd gelaat is deur nalatigheid by staatshospitale.
‘n Woordvoerder van die raad, Kabelo Letebele, sê hy ondersoek klagtes van die Oos-Kaapse gesondheidsdepartement dat die betrokke prokureurs nie die hofspertye nagekom het om die nodige trusts te stig om die geld te bestuur nie.
Van hierdie skikkings beloop tot R15-miljoen.
Dié klagtes is in Maart en April verlede jaar ingedien en op dié stadium is dit onduidelik waarom dit die raad so lank geneem het om op te tree.
Letebele sê verskeie van dié sake sal nou voorlopig op 14 September aangehoor word.
