‘n Blikkie Cadbury sjokolades wat 121 jaar oud is sal binnekort op ‘n veiling verkoop word.

Die sjokolades is deur Cadbury gemaak om die kroning van Koning Edward VII en Koningin Alexandra in 1902 te vier. Die vanielje sjokolade is destyds aan die 9-jarige Mary Ann Blackmore by haar skool gegee, maar sy het dit nie geëet nie omdat sy dit as ‘n aandenking wou hou.
Die sjokolades het by haar kleindogter, Jean Thompson (72) opgeëindig, wat dit na Hanson’s Afslaers in Derby, Engeland geneem het.
Volgens Morven Fairlie van Hanson’s Afslaers was sjokolade in daardie tyd baie duur, en sou kinders dit nie sommer kry nie. Die sjokolades kan volgens Fairlie vir tussen £100 en £150 (R2360.23 en R3540.34) verkoop word.
Fairlie sê die sjokolade sal nie geëet kan word nie, maar mense koop dikwels hierdie produkte weens die geskiedkundige waarde.
