28 November 2023
11 werkers is dood en 75 is gehospitaliseer na gistermiddag se ongeluk by Impala Platinum Holdings Limited (Implats) se mynskag in Rustenburg.
Die ongeluk het glo weens ‘n kabel wat aan die hysbak verbind is – wat werkers in die skag op en af hys – plaasgevind.
Volgens ‘n verklaring is alle noodprotokolle tydens die voorval nagekom en is paremedici en die myn se soek-en-reddingspanne onmiddellik gemobiliseer. Implats se uitvoerende hoof, Nico Muller sê hulle is tans in gesprek met mynwerkersvakbonde, en die oorledenes se naasbestaandes.
“Hierdie is die donkerste dag in Implats se geskiedenis. Ons ondersteun die families van die slagoffers en bid vir die beseerdes.”
Die omstandighede rakende die voorval word ondersoek.