NKANDLA – Dink weer – die Vatikaan is toe nie die kleinste stadstaat ter wêreld nie

Deur on

Nuuskommentaar: 8 Julie

Deur: Jan Bosman

Vir baie lank is geglo dat die Vatikaan, wat in oppervlakte sowat 49 hektaar oftewel 490 000 m² en met 825 inwoners, die kleinste stadstaat ter wêreld is.  Die Vatikaan is die setel van die Pous wat die hoof van die Katolieke kerk is met nagenoeg 1,2 miljard lidmate. In die Pous setel die wetgewende Uitvoerende en regterlike gesag en het die Vatikaan diplomatieke verhoudinge met 179 lande.

Na die naweek van 3 en 4 Julie 2021 is dit duidelik dat die hele wêreld onder ʼn verkeerde indruk was. In die hart van Kwazulu-Natal is die nuwe Statstaat van Nkandla  wat 9,0282 ha oftewel 90 282m² oppervlakte beslaan (5,1958 hektaar staatsgrond en Jacob Zuma se privaateiendom van 3,88324 hektaar  – Lees hier.)  Die bestaansrede wentel in die geval om een selfverklaarde oppermagtige persoon  Jacob Gedleyihlekisa Zuma wat slegs in sy eie belang optree. Sy pryssangers, soos Carl Niehaus, spreek hom aan as Msholozi.

In 2011 publiseer die dagblad Beeld ʼn onderhoud met toe president Jacob Zuma. Tydens die onderhoud oor verskeie sake word president Zuma aangehaal waar hy sê: “Afrikaners moet hul eie sielkundige “Nkandla” vind, ’n tuiste waar hulle die vrymoedigheid het om dit wat vir hulle belangrik is uit te leef.”

Reeds op daardie stadium het dit duidelik geword dat Jacob Zuma se privaat tuiste in Nkandla wat teen ʼn koste vir die belastingbetaler van R246 miljoen opgerig is, die manifestasie geword het van alles wat in Suid-Afrika verkeerd loop. Die magsmisbruik deur sentralisering, verkwisting van staatsfondse en toesmeerdery van feite en totale gebrek aan aanspreeklikheid omgewe feitelik elke skandaal wat Suid-Afrikaners te dikwels konfronteer. Nkandla het toe reeds ’n toenemend paranoïese regering versinnebeeld waarbinne die skeiding tussen staat, die regering, en sy leier vervaag. Ons kon toe reeds sien hoe ʼn desperate regering stadigaan besig is om beheer oor bepaalde aspekte van die samelewing te verloor en gevolglik daarvoor probeer kompenseer met groterwordende en amper paniekerige sekuriteitsmaatreëls in ’n poging om hierdie beheer te herwin. Covid-19 het in 2020 hierdie probleme wat onder die oppervlak gesluimer het, dramaties en skokkend ten toon gestel.

Mnr Zuma kon Nkandla in 2011 as ʼn geestelike tuiste voorgehou het maar in 2021 het dit duidelik geword dat Zuma Nkandla gebruik as sy eie soewereine statstaat vanwaar Suid-Afrika, sy grondwet, sy reëls en Covid-19 regulasies met voortdurende arrogansie uitgedaag word. Hoe ernstig moet Jacob Zuma oor sy verbintenis tot die grondwet opgeneem word as hy telkens op rekord was dat die ANC bo die grondwet verhewe is? Hoe arrogant kan hy en sy onderdane wees as Covid-19 dood en verwoesting saai in die land, maar dan openlik en uittartend sosiale afstand reëls minag en die dra van maskers uitdaag.

In die hele sage moet die Suid-Afrikaanse regering se skynbare verlammende laksheid en die ommekeer van die Konstitusionele Hof na die aanvanklike sterk uitspraak tot 15 maande tronkstraf en dan die toegewing om maar nog ʼn geleentheid vir vertoë te bied bevraagteken word . Die ommekeer herinner trouens sterk aan die Amerikaanse komediant Groucho Marx wat gesê het – “Hierdie is my beginsels, maar as jy nie daarvan hou nie, wel dan het ek ook ander…” Die verlammende en gebrekkige optrede het die ruimte gebied aan die Zuma faksie om gedurende die naweek nuwe betekenis te gee aan die begrippe gepeupelheerskappy en gepeupelreg. Dit is binne hierdie begrippe waarop die Nkandla statstaat fondament berus.

Is Nkandla nie tans ook maar ʼn versinnebeelding van Suid-Afrika nie. Ons sou graag deel wou wees van ʼn Suid-Afrika gebaseer op die sleutel eienskappe vir goeie regering wat die VN se Kommissie oor Menseregte geïdentifiseer het naamlik, deursigtigheid, verantwoordelikheid, aanspreeklikheid, deelname en ʼn regering wat werklik reageer en optree om die behoeftes van sy mense aan te spreek.  Hierdie elemente is egter tot ʼn groot mate afwesig in Suid-Afrika, maar nêrens word die totale afwesigheid beter gedemonstreer as by die gewese Suid-Afrikaanse staatshoof se heerskappy binne Nkandla en die onlangse gebeure aldaar nie.

Hoop, Glo, Leef in Afrikaans.
Jou ondersteuning versterk Afrikaanse media. Hou jou taal op die lug.
Klik hier.


Current track

Title

Artist