Navo-beraad neem groot maar ook gevaarlike besluite

Deur on

Nuuskommentaar: 16 Julie 2024

Deur: Jaco Kleynhans

Verlede week se Navo-beraad in Washington DC was nie net ’n herdenking van die 75ste bestaansjaar van dié militêre alliansie nie, maar was ook ’n wesenlike toets vir die 32 lidlande oor beide die relevansie van Navo in 2024 en die vermoë van Navo-lidlande om op die groter wordende globale veiligheidsbedreiging te reageer.

Die beraad in die Amerikaanse hoofstad, waar Navo ook presies 75 jaar gelede opgerig is, het veral op die oorlog in Oekraïne gefokus. ’n Hele rits beloftes is aan Oekraïne gemaak wat insluit ’n verbintenis deur Navo dat ’n onomkeerbare pad na Navo-lidmaatskap vir dié land geskep sal word. Navo sal selfs binnekort ’n kantoor in Kiëf open.

Verder sal die mees gevorderde Amerikaanse missiele binnekort, vir die eerste keer sedert die Koue Oorlog, in Duitsland ontplooi word. So iets was enkele jare gelede byna ondenkbaar.

Dertien Europese Navo-lidlande gaan ook saamwerk om een miljoen hommeltuie vir Oekraïne te bou. Navo-lidlande gaan Oekraïne help om minstens drie gevorderde lugafweerstelsels in werking te stel ten einde missiel- en vuurpylaanvalle uit Rusland af te weer. Heelwat meer wapens sal deur die VSA en Europa oor die volgende paar maande aan Oekraïne verskaf word.

Toe Donald Trump in 2017 Europese lande gedreig het omdat hulle militêre besteding wesenlik minder as die ooreengekome 2% van hul bruto binnelandse produk was, het hy die wenkbroue laat lig. Intussen het byna elke Navo-lidland ’n reuseverhoging aan militêre besteding aangekondig en voldoen 23 van die 32 lande nou aan die 2%-vereiste. Die nege wat nie daaraan voldoen nie, soos Kanada en Spanje, is verlede week ernstig oor die vingers getik.

Terwyl die Amerikaanse wapenbedryf gerat is om baie meer wapens te vervaardig, is dit steeds ’n vraag of Europese wapenvervaardigers in die groeiende vraag kan voldoen. Daar is ’n groot verskil tussen ’n belofte van wapens en die vermoë om dit uiteindelik te lewer.

Die oorlog in Oekraïne het duidelik daarin geslaag om hernude eensgesindheid by Navo-lidlande aan te wakker nadat daar nog enkele jare gelede heelwat verdeeldheid oor die toekoms van Navo was. Rusland word tans as die grootste bedreiging vir vrede in die Weste beskou, maar verlede week se beraad het ook verder gegaan deur vir die eerste keer China oor die vingers te tik. China se steun aan Rusland is deur Navo direk in verband gebring met die oorlog in Oekraïne.

Die bedreiging wat Rusland en China vir globale vrede inhou, is wesenlik. Die feit dat dié twee magte egter nader aan mekaar beweeg, is selfs meer wesenlik en daar is duidelik geen strategie in die Weste om dit teen te werk nie. Netso is daar geen strategie om die oorlog in Oekraïne tot ’n einde te bring nie.

Beloftes van Navo-lidmaatskap aan Oekraïne, ’n uitbreiding van Amerikaanse militêre teenwoordigheid in Europa en ruimte vir Oekraïne se weermag om meer wapens in aanvalle op Russiese grondgebied te gebruik, hou reusagtige risiko’s in.

Die militêre regrukpoging deur Europese lande is goed en nodig. ’n Sterk Navo kan sonder twyfel tot vrede bydra. Die huidige opbou in spanning met Rusland en nou ook China, en die afwesigheid in leierskap om uiteindelik hierdie spanning te ontlont, skep egter ’n plofbare situasie.

In alle opsigte was die 75ste Navo-beraad ryk aan beloftes, waarskuwings en dreigemente en arm aan strategieë om die wêreld ’n veiliger plek te maak.


Current track

Title

Artist