fbpx

Nasiebou is ‘n snaakse woord

Deur on Okt 24, 2019

Nuuskommentaar: 23 Oktober

Die onlangse struwelinge in die Demokratiese Alliansie wentel, in ‘n sekere sin, om ‘n enkele vraag: Hoe behoort die DA se strategie vir nasiebou te lyk?

Dit is interessant om te let op die prominente posisie wat hierdie idee in die politieke diskoers ingeneem het – vir baie lank het min mense gehou van die idee van “nasiebou”.

‘n Angel-Sakser wat in 1066 gesien het hoe die Normandiërs opdaag in Brittanje – met skepe, wapens en soldate – sou kon vermoed dat nasiebou in sy nabye toekoms was.

En inderdaad – na ‘n paar maande van intensiewe nasiebou op die slagveld (en, daarna, ‘n paar eeue van stadige nasiebou in paleise, parlemente en howe) – is daar nie meer Angel-Saksers of Normandiërs nie.

Nasiebou is ‘n lang proses – dit het immers tot 1998 geneem vir die Goeie Vrydag ooreenkoms om geteken te word. Daarmee saam kom die einde aan enige en alle konflik in Britse eilande. Waarskynlik. Afgesien van Brexit. En wanneer Skotland gaan loop.

In plaas van die Angele, Saksers, Kelte en talle ander is daar nou net die Engelse – en hulle, op hul beurt, het weer Suid-Afrika in 1910 geseën met ‘n bietjie stadige nasiebou van ons eie.

Na die vereiste intensiewe nasiebou op die slagveld, natuurlik.

Deesdae het ons veel meer gevorderde nasie-bou tegnologie as in daardie tyd, natuurlik. Grondwette, parlemente, presidente en stemdae hanteer nou stadige nasiebou met aansienlik meer grasie as outokrasieë – en met heelwat minder onbesorgdheid vir wat die mense werklik nodig het.

En die intensiewe nasiebou? Wel, dit lyk nie meer soos die inval soos Normandië nie – maar eerder soos rasseherries in Schweizer-Reneke, hofsake in Coligny, ou vlae in die strate, Afrikaans by die universiteite en springbokke jag vir haatspraak.

In hierdie opsig is die DA se pogings om “een SA vir almal” te bou lofwaardig in soverre dit probeer hierdie konflik voorkom – maar eintlik juis net ‘n ander vorm van dieselfde ding wat die konflik in die eerste plek veroorsaak.

Dit is natuurlik nie net ‘n DA-probleem hierdie nie. In hierdie opsig is die meeste groot partye eintlik betreklik soortgelyk – in die DA se individualistiese politieke agtergrond, ANC se historiese nie-rassigheid.

Kon die DA en ANC dan minstens hulself suiwer van enige kulturele identiteit? Beslis nie – en dit is ook sigbaar in hoe kiesers oor hulle dink.

Die DA se filosofie en waardes kom uit ‘n gans andere wêreld uit as dié wat meeste swart kiesers elke dag beleef. Dít is baie duidelik uit hul pogings om daardie demografie se stemme te werf – wat op sigself ook onbestaanbaar was met hul vorige kiesers se identiteite.

So ook is dit vir talle van die DA se kiesers onbegryplik hoe enigiemand vir die ANC sou kon stem.

In hierdie opsig, interessant genoeg, herinner die Suid-Afrikaanse probleem eintlik aan die probleem van die onderbewussyn in die sielkunde.

Freud se reuse deurbraak was die ontdekking dat jou gedrag op subtiele maniere beïnvloed word deur ‘n deel van jouself wat buite jou eie beheer was.

Vinnig het daar twee denkstrome ontstaan. Freud self het geglo dat hierdie onderbewuste invloede onderdruk en verwerp moet word om beskaafd te word.

Jung, sy student, het daarenteen geglo dat dit juis ons onsself moet ken om goeie burgers te wees. Wanneer ons eerlik is oor ons gebreke, foute, voorkeure, drome en nagmerries – eers dan is dit moontlik om met ander mense saam te leef.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist