Nuuskommentaar: 30 September 2024
Deur: Jaco Kleynhans
Vir meer as ’n jaar het die regse Vryheidsparty van Oostenryk voorgeloop in peilings. In Sondag se federale verkiesing het dié party eerste geëindig en sal hy nou vir die eerste keer ooit die geleentheid kry om ’n koalisieregering, waarskynlik met die sentrumregse Volksparty, te probeer saamstel. Dit beteken dat Herbert Kickl, leier van die Vryheidsparty, binnekort die nuwe kanselier van Oostenryk kan word.
Oostenryk is die afgelope vyf jaar deur ’n koalisie van die Volksparty en die linkse Groenparty regeer. Dié koalisie was egter uiters ongewild weens Oostenryk se drakoniese Covid-19-maatreëls, ernstige ekonomiese uitdagings en ’n reuse-migrasiekrisis wat tot ’n skerp toename in geweld en terreur deur immigrante gelei het.
Die Volksparty was sedert 1987 nog altyd deel van die Oostenrykse regering. Die regse Vryheidsparty daarteenoor was sedert sy stigting in 1956 nog net drie keer deel van ’n regering, maar het nog nooit eerste in ’n verkiesing geëindig en ’n regering gelei nie.
Terwyl die meeste regse anti-immigrasieparty in Europa die afgelope twee dekades sterk na vore getree het, is die Vryheidsparty reeds byna sewentig jaar lank al deel van die Oostenrykse politieke landskap hoewel dit meestal in die opposisie was. Dié party is uitgesproke gekant teen die massa-immigrasie wat die afgelope tyd ook die kulturele landskap in Oostenryk dramaties verander het. Byna een derde van mense wat vandag in Oostenryk woon het ’n immigrante-agtergrond.
Terwyl misdaad deur immigrante in Oostenryk toeneem was daar ook ’n toename in terreuraktiwiteite in dié land. In Augustus moes drie konserte van die Amerikaanse popster Taylor Swift afgestel word nadat die polisie in Oostenryk van ’n beplande aanval deur ’n Islamitiese terreurgroep tydens een van die konserte bewus geword het.
Daar is ’n duidelike parallel tussen die uitdagings wat Oostenryk en Duitsland in die gesig staar. Net soos Duitsland het Oostenryk ook ernstige ekonomiese uitdagings weens onder andere ’n skerp styging in energiekoste. Oostenryk se ekonomie gaan na verwagting vanjaar met 0,7% krimp. Net so, in veral Oos-Duitsland, glo baie Oostenrykers ook dat die oorlog in Oekraïne daarvoor te blameer is. Die Vryheidsparty wil hê dat die oorlog onmiddellik beëindig word en dat Oostenryk se bande met Rusland herstel moet word.
Politieke partye en leiers in verskillende Europese lande het die afgelope tyd verskillend op die opkoms van veral regse anti-immigrasie partye reageer. In Duitsland werk ou politieke vyande en partye wat byna niks met mekaar in gemeen het nie in deelstate in koalisies saam ten einde die regse Alternatief vir Duitsland uit te hou. Tot dusver volg die meeste partye in Frankryk ook dieselfde model om Marine LePen se regse Nasionale Samekoms-party uit te hou terwyl alle partye in België saamwerk om Vlaams Belang uit die federale regering én die Vlaamse regering te hou.
Tog het die teenoorgestelde in lande soos Nederland, Italië, Spanje en Finland reeds bewys dat deur nuwe regse partye by regerings te betrek dit deel van die oplossing vir die toenemende uitdagings in Europa kan wees. In Spanje werk Vox in talle provinsies met die Spaanse Volksparty saam. In Nederland is die Partij voor de Vrijheid nou deel van ’n koalisieregering. In Italië lei ’n regse party ’n koalisieregering en in Finland is ’n regse party deel van ’n regeringsooreenkoms.
Oor die volgende paar dae en weke sal ons sien hoe die onderhandelinge vir ’n nuwe regering in Oostenryk gaan uitloop. Dit gaan waarskynlik wesenlike gevolge vir Oostenryk maar ook die hele Europa inhou. Europeërs is moeg vir massa-immigrasie, die oorlog in Oekraïne en hulle is baie bekommerd oor die ekonomiese welstand van hulle lande. Deur partye by ’n regering in te sluit wat ’n mandaat by kiesers kan kry om oplossings hiervoor te skep, is die regte ding.