fbpx

‘n Ressessie? Wie sou kon raai?

Deur on Mrt 9, 2020

Nuuskommentaar: 9 Maart

Enige persoon wat verras is deur die onlangse nuus dat Suid-Afrika tans in ‘n ressessie is leef sekerlik onder ‘n klip. Die nuus het hierdie week amptelik gebreek dat die Suid-Afrikaanse ekonomie gekrimp het met 1.4% in die vierde kwartaal van 2019. Die inkrimping het die voorafgaande inkrimping van 0.8% in die derde kwartaal gevolg, wat in eenvoudige terme beteken dat Suid-Afrika die tweede deel van 2019 in ‘n ressessie was.

Is enige iemand egter verras? President Cyril Ramaphosa wat ‘geskok’ is deur gebeure en optrede deur sy eie regering het al herhaaldelik die spotprente van ons land se koerante gehaal. In Januarie 2019 was Ramaphosa ‘geskok’ deur die onthullings van die staatskaping kommissie. In April van die selfde jaar was Ramaphosa ‘verbaas’ oor die toestand van ons openbare vervoerstelsel na hy op ‘n Metro Rail trein gery het.Later in 2019 was hy weereens geskok deur fase vier beurtkrag wat geimplementeer is. Dit blyk asof Ramaphosa ‘n blinde oog draai vir die realiteit van ons land wat deur sy party en hul beleid veroorsaak word.

Twee jaar in sy termyn as staatshoof lyk dit asof Ramaphosa darem nie meer geskok is vir ellendigheid wat sy presidensie verder help kweek nie. Kort nadat die nuus oor die ressessie gebreek het, het Ramaphosa by die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteurs Forum (Sanef) gesê dat die ressiessie nie verbasend of ‘n skok is nie. Een van die min kere wat Ramaphosa uitdagings en probleme nie eenvoudig ignoreer nie.

Wat egter wel skokkend maar nie verbasend is nie, is die ANC se volgehoue posisie om nie ‘n nuwe beleidsrigting in te slaan om ons ekonomiese trajek te verander en ons op die herstel te kry nie. Suid-Afrika ervaar ‘n krisis vir meer as ‘n dekade. ‘n Krisis wat nie uitsluitlik voormalige president Jacob Zuma se skuld is nie. Dit is ook nie uitsluitlik die ANC of apartheid se skuld nie. Suid-Afrika lei aan ‘n kroniese siekte van oplossings soek waar oplossings nie te vinde is nie. Ons eeue oue probleem is om na die regering of owerhede te draai wanneer daar probleme en uitdagings is in plaas daarvan om te besef dat al wat ons land sal kan red is wanneer gemeenskappe hand in eie boesem steek om ons land op die herstel pad te kry.

Albert Einstein se bekende aanhaling lui dat die definisie van waansin is om dieselfde ding oor en oor te doen maar ‘n ander resultaat te verwag. Vir dekades wag Suid-Afrikaners net vir ‘n beter bestuurder van ons land se spreekwoordelike bus, sonder om op enige punt te wonder of dit nie dalk die bus self is wat stukkend is nie.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist