Nuuskommentaar: 1 November 2023
Deur: Hannes Noëth
In ’n tyd waarin daar baie onrus is, is dit soms nodig om ook nuuskommentaar te lewer op goeie nuus. In wêreldnuus is in dieselfde week waarin Rusland en Oekraïne steeds vol in oorlog is, Israel en Gaza geweldig onstabiel is en Amerika sekere basisse aanval in Sirië meer onsekerheid as sekerheid en nog onluste wat Europa vol dreig.
Binnelands gebeur dit dat die regering dit regkry om die Bela-onderwyswet ingestem te kry en die regering leen ’n ekstra een miljard dollar vir kragvolhoubaarheid en die gemiddelde Suid-Afrikaner wonder oor hoe baie daarvan gesteel gaan word en hoeveel deur tenderkorrupsie net gaan wegraak.
In-huis bekommer die salaristrekker oor sy maandelikse salaris, tien rentekoerstygings na mekaar maak mense moeg en brandstofprys lyk of Elon Musk dit maan toe lanseer. In ‘n tyd van al hierdie dinge gebeur daar in die klein dorpie Orania die afgelope week iets wat nie noodwendig hoofnuus sal haal nie, maar tog ‘n geweldige sterk en positiewe boodskap uitdra. Dit is ‘n stukkie goeie nuus in ‘n wêreld vol uitdagings.
‘n Parkie word geopen. Ja, ‘n gewone speelparkie. Wat maak dit so spesiaal? Absoluut alles. Die opening van ‘n speelparkie in ‘n vreedsame klein dorpie wat bou na ‘n stad is spesiaal. Dit getuig van vrede, van hoop, van ‘n toekoms. Wat kan meer die boodskap van vrede uitdra as bejaardes wat in ‘n parkie kan sit en kinders wat in speel asof al die lelike dinge in die wêreld nie gebeur nie. Vir baie van die ouer mense sal daar waarskynlik nog die nostalgie wees van vreedsaam leef en piekniek in ‘n gemeenskapsparkie. In die meeste dorpe het daardie vreedsame parkie-tyd verbygegaan.
Tans spook ons gemeenskappe en gemeenskapsinstellings om parkies wat daar is skoon, leefbaar en netjies te hou.
Hulle doen reuse werk en stryd ‘n stryd teen ‘n tydsgees wat vernietig en verwoes. Van nuwe parkies aanlê is daar min sprake. Daarom is dit wat die afgelope week in Orania gebeur het groot nuus en verdien dit om groot nuus te wees. ‘n Nuwe parkie.
‘n Lint wat geknip word tussen twee ontwikkelings, Soetdoring en Gannabos. Kinders wat vreedsaam speel.
Ons kinders is hier welkom. Ons kinders moet sterk groot word, vry van die malheid van ‘n vreemde wêreld.
Daarom is die opening van hierdie nuwe parkie meer as net die knip van ‘n lint – dit getuig van vertroue in ‘n toekoms, van hoop.
Die woorde van ‘n jong klein dogtertjie met die opening van die nuutgeskepte parkie is kosbaar en hoopgewend – “Ons speel hier, ons mag en ons kan. Ons speel hier. Dit is lekker en dit is vry.” Mag ons in hierdie land nog baie parkies bou. Nuwe parkies. Simbole van hoop en vrede en vryheid. Mag ons bejaardes onder die bome sit en ons kinders baie speel.
Mag hulle hardloop en spring, swaai en bal skop. Mag die parkies getuienis wees van ‘n toekoms en mag daar so vir elke kind die warmte van ‘n nes geskep word. Die opening van ‘n nuwe parkie is groot nuus. Groter as wat ons dink.