My 25 jaar by Pretoria FM

Deur on

Hoofstuk 21 – 30 Augustus 2023

Geskryf deur: Karen Zeelie

Wat ’n voorreg om vir 25 van die 30 jaar deel te kon wees van die bestaan van Pretoria FM!

Om kollegas met die jare te kon sien kom en gaan, was soos om die meerkatjies op die vlaktes van Kleinfontein te kon sien..

Ek dink aan manne soos Johannes “Vaalseun” van der Walt, Gideon van den Berg of “Giepie” soos sy kollegas hom genoem het.

Natuurlik die destydse slagaar van die stasie, Ds Mossie van den Berg en dan my pa, Frik Pieterse, wat vir ’n lang ruk die Programbestuurder was, voordat Faan Rabie by hom oorgeneem het na sy aftrede.

Mense agter die skerms wat net so hard gewerk het om nuusgebeure vars te hou, soos Ellen Diedericks, eggenote van Jaap Diedericks, wat albei ewe hard gewig ingegooi het in die beginjare om ons stasie op die voete te bring.

Jaap en Susan Versfeld en vandag dra hul seun Jaco steeds die vlam hoog.

Jeanette Gnade en Ettiene, alias Tubby du Preez, om maar ’n paar te noem.

Daar was tannie Toeks Erasmus, wat altyd die vriendelike stem oor die telefoon was, voordat die ontvangsdame, telefonis pos uitgebrei het na ’n omvattende kliëntediens span wat vandag deur Anne-Marie Pretorius en Liezil  Van der Schyff gevul word na my aftrede, vroeg in 2023.

Dis wonderlik om te sien hoedat die stasie uitbrei en groei en ook wat vermaak betref toeneem in gewildheid onder ons luisteraars.

Ons het met uitstekende adverteerders en ’n uitstekende bemarkingspan, nie meer nodig om die Vasbyte van weleer te hou in die hoop om tog maar ’n bestaan te maak nie.

Ons het nie meer nodig om met hofsake en groot gevegte te pleit vir lisensies en die reg om te mag uitsaai nie.

Dat Pretoria FM van krag tot krag gaan is suiwer te danke aan ons Hemelse Vader aan wie al die Eer toekom!

Die bestuur van Pretoria FM wat deur die jare ook van personeel gewissel het, word met groot liefde deur Hennie Koortzen gelei en om deel van die personeelkorps te kon wees, was vir my die grootste voorreg van my lewe!

Mag Pretoria FM blom waar hy geplant is en altyd die Lig uitdra in ’n donker wêreld.

My belewenis van Pretoria FM terwyl ek daar gewerk het en ook nou ook as luisteraars kan die beste met die volgende versreels opgesom word:

Dis stil,

gedagtes in ‘n warboel

Gevoelens so vreemd, onwerklik, sonder wil

My lewe vreemd, sonder doel…

Het ons onsself verloor

Covid se twee jaar ons in doolhofgange

van verdwaal laat ontspoor…

Trane drup oor my wange..

Skakel die radio aan,

stop jou sinnelose gedink en getob!

Sit die ligte aan…

Hoor ek Steve se liedjie aan my hartdeur klop

Die radio stoot die deure oop

Musiek en programme word ‘n kalmeerpil

ek luister dankbaar en vol hoop

en skielik raak die stemme stil…

  • Karen Zeelie was 25 jaar, vanaf 1998 tot 2023 werksaam by Pretoria FM, eers as program- en kontinuiteitaanbieder asook die skepper en aanbieder van die kinderprogram, Kleuterkluitjies, en later as Klientediensbeampte. Sy het in 2023 afgetree en geniet nou status as trotse ouma van pragtige kleinkinders  

Current track

Title

Artist