18 Oktober 2024
Die geskorste voormalige regter-president van die Wes-Kaapse Hooggeregshof en LP van die MK-party, John Hlophe het die geskorste voormalige Openbare Beskermer, advokaat Busisiwe Mkhwebane genooi om by dié party aan te sluit.
Mkhwebane het Woensdag haar pos as parlementslid prysgegee toe sy uit die EFF bedank het.
Tydens ‘n mediakonferensie het Hlophe gesê dat Mkhwebane nog nie ‘n lid van die MK-party is nie.
LEES OOK: Busisiwe Mkhwebane bedank as EFF-parlementslid
Haar voormalige EFF-partygenoot – wat hom ook intussen by die MK-party geskaar het – Mzwanele Manyi, het dit duidelik gemaak dat hy aktief sal probeer om Mkhwebane vir dié party te werf.
Mkhwebane het in haar bedankingsbrief geskryf dat sy die laaste paar jaar voel asof haar menseregte geskend word. Sy het verwys na president Cyril Ramaphosa wat haar “ongrondwetlik uit haar pos as OB verwyder het.”
Volgens Mkhwebane voel sy in die steek gelaat deur die Suid-Afrikaanse Regbank, die parlement en die hoofstroom media wat, volgens haar, haar geteiken het om haar karakter af te breek.