23 Oktober 2024
Die minister van kommunikasie en digitale tegnologie, Solly Malatsi, het staatsdepartemente versoek om sy uitstaande TV-lisensieskuld te vereffen.
Malatsi het aan adjunkpresident Paul Mashatile – as leier van regeringsake – geskryf en gevra dat die regering dringend ingryp.
Die minister se skrywe kom nadat die SAUK verlede week aan die parlement onthul het dat minder mense die afgelope jaar vir lisensies betaal het.
Dit sluit staatsdepartemente in wat sowat 2 500 televisiestelle besit en lisensieskuld van byna R35-miljoen het.
Volgens Malatsi is TV-lisensiegeld veronderstel om die hoof-inkomste van die nasionale uitsaaier te wees, en is die regering versonderstel om ‘n voorbeeld te stel.
AfriForum se hoof van openbare betrekkinge, Ernst van Zyl sê die staatsdepartemente se wanbetaling van TV-lisensies is ’n verdere bewys dat dié stelsel ’n flop is waarin selfs die staat vertroue verloor het, en dadelik afgeskaf moet word.
Hy sê die onthulling kom nadat die burgerregteorganisasie reeds vroeër vanjaar versoek het dat die openbare uitsaaier geprivatiseer moet word.