Midde-Oosterse lande sal self oplossings vir streek se probleme moet vind

Deur on

Nuuskommentaar: 4 Mei

Deur: Jaco Kleynhans

Prins Mohammed Bin Salman, die kroonprins van Saoedi-Arabië, het verlede week tydens ‘n televisie-onderhoud gesê dat sy land graag goeie verhoudinge met Iran wil bewerkstellig. Saoedi-Arabië en Iran is reeds vir dekades aartsvyande en voer die afgelope paar jaar ‘n verwoede stryd om invloed in die Midde-Ooste wat onder andere in die bloedige oorlog in Jemen afspeel.

Saoedi-Arabië verteenwoordig die Soenniete sekte van Arabiese Moslems terwyl Iran sy mag en invloed in die veel kleiner Sjiïete Moslemwêreld, wat hoofsaak Iran, Irak, Bahrein en dele van Jemen, Sirië, Afganistan en Libanon insluit, probeer konsolideer en laat geld. Die twee lande se belange het egter die afgelope paar jaar in verskeie dele van die Midde-Ooste gebots en tot konflik, geweld en selfs oorlog gelei.

Onlangs het dit egter aan die lig gekom dat die twee lande in geheime gesprekke gewikkel is om hulle verhouding te normaliseer. Sedert ‘n aanval op die ambassade van Saoedi-Arabië in Iran in 2016 het alle diplomatieke bande tussen die twee lande tot ‘n einde gekom.

Die stryd tussen Iran en Saoedi-Arabië het primêr te make met sektariese geloofsverskille oor die interpretasie van Islam. Tydens die Koue Oorlog was beide lande egter vir lank bondgenote van die Weste in ‘n poging om die Sowjetunie se invloed in die Midde-Ooste te beperk. Na die Islamitiese revolusie in 1979 in Iran het dié land homself egter vyandig teenoor die Weste geposisioneer en het Saoedi-Arabië ‘n getroue bondgenoot van die VSA en ander Westerse lande geword.

Sedert die ontstaan van die sogenaamde oorlog teen terreur na die aanvalle deur Al-Kaïda op die VSA in September 2001, het dit egter duidelik geraak dat Westerse lande moeilik deur konvensionele oorlog tot langtermyn vrede in die Midde-Ooste sal kan bydra. Mislukte pogings in Irak, Sirië en Afganistan het dit bevestig.

Oorloë in die Midde-Ooste het die afgelope twee dekades tot ‘n enorme vlugtelingkrisis, groter onstabiliteit, armoede, hongersnood en ‘n teelaarde vir terreurgroepe aanleiding gegee. Om konflik in die Midde-Ooste te verminder moet ‘n gesonder magsverhouding tussen strydende lande en volkere in die streek gevind word, terwyl beter regerings en meer volhoubare ekonomiese ontwikkeling nodig.

Terwyl daar in die Weste begrip is vir Israel se vrese vir konflik met Iran of selfs net groter onstabiliteit in lande soos Sirië en Libanon raak dit duideliker dat oplossings vir die Midde-Ooste se probleme uiteindelik deur rolspelers in die streek self gevind moet word.

Die VSA se koeler verhouding die afgelope paar maande met Saoedi-Arabië, Westerse lande se onderhandeling vir ‘n nuwe kernooreenkoms met Iran en die VSA en ander Navo-lidlande se onttrekking van soldate uit Afganistan bevestig dat Midde-Oosterse lande nie meer na die Weste sal kan kyk om hulle probleme vir hulle op te los nie.

‘n Normalisering van verhoudinge tussen Saoedi-Arabië en Iran en beter verhoudinge tussen Israel en verskeie Arabiese lande is ‘n eerste stap in beter magsverhoudinge in die Midde-Ooste. Die groot uitdaging in lande soos Afganistan, Sirië en Irak is die daarstel van stabiele, bekwame en minder korrupte regerings. Die Midde-Ooste sal waarskynlik nog vir lank een van die mees onstabiele streke in die wêreld wees, maar met lande in die streek wat groter verantwoordelikheid neem kan eie oplossings vir die streek gevind word.


Current track

Title

Artist