Meer geweldsmisdaad in ’n wapenlose Suid-Afrika

Deur on Aug 20, 2019

Nuuskommentaar: 20 Augustus

Die massaskietvoorvalle in Dayton en El Paso in die VSA het vuurwapenbeheer tot heel voor in politieke debatvoering onder voorstaanders van ’n vuurwapenvrye samelewing geplaas. Laasge-noemde het 31 mense dood gelaat en talle ander gewond. Die debat rondom vuurwapens het die VSA weereens verdeel rondom die oplossing vir die beweerde probleem.

     Alhoewel massaskietvoorvalle nie ’n tendens in Suid-Afrika is nie, vier vuurwapenmisdaad hier op ander maniere hooggety en gevolglik is die debat rondom die privaatbesit van vuurwapens op eie bodem ook vuurwarm. Organisasies soos GunFreeSouthAfrica promoveer die afskaffing van privaatbesit en die Staat probeer sy absolute bes om wetgewing aan te pas om die regte van vuurwapeneienaars meer in te perk as wat dit reeds is. Maar wat is die implikasies hiervan?

     505. Dit is die aantal vuurwapens wat die afgelope finansiele jaar vanuit die veilige bewaring van die Suid-Afrikaanse Polisiediens verdwyn het. Daarmee saam is honderde duisende rondtes ammunisie ook vermis.

     Dit is glad nie verbasend dat dossiere wegraak en stelsels, en veral die goedkeuring van vuurwapenlisensies, wanfunksioneer en groot agterstande tot gevolg het nie.

     Op die Kaapse Vlakte is die weermag ontplooi en tydens protesaksies in dorpe of stede raak skares so gewelddadig dat polisielede in vrees die hasepad kies.

     Ons lewe in ’n Suid-Afrika waar die samelewing nie veilig is nie. Jy durf nie op ’n plaas bly of deur die middestad ry nie —die kans dat jy met jou lewe gaan moet boet omdat jy ’n boer is of omdat jy ’n motor besit, is al aanvaarde praktyk. Dienooreenkomstig is dit ook nie meer net aanvaarbaar nie maar absoluut noodsaaklik om jouself ter wille van jou eie veiligheid ten alle tye te moet bewapen. Jou eie lewe asook die lewens van jou geliefdes en elke ander persoon in jou onmiddelike omgewing wat hom/haarself nie bewapen nie, hang hiervan af.

       Die polisie boesem geen vertroue in nie. En met rede; hulle is doodeenvoudig net nie in staat daartoe om die mense van die land te kan beskerm nie. Tog beweeg die Staat doelbewus in die rigting daarvan om gewone wetsgehoorsame landsburgers te ontwapen. Deur die voorgestelde wysiging van die wet op die besit van vuurwapens poog hulle om van selfverdediging ’n misdaad te maak. Dit laat mense weerloos en stel hul lewens direk in gevaar en beskerm eerder die regte van kriminele en gewetenlose moordenaars. Vuurwapeneienaars is nie die sondebok nie; hulle is verantwoordelik en tree binne die regulasies van die huidige wetsontwerp op. In teenstryd moet die blaam eerder geplaas word op korrupte polisiebeamptes wat betrokke is by onwettige wapenhandel, die SAPD se onbevoegdheid om die stelsel doeltreffend te kan beheer en bestuur en die gewone krimineel wat onwettige vuurwapens besit.

    ’n Mens hoef nie ver te gaan soek om vas te stel wat die uitwerking van hierdie wetsontwerp sal wees nie. Elke suksesvolle plaasmoord, noodlottige huisbraak en kaping dui dit reeds aan. Om mense te ontwapen sal nie ’n afwaartse kurwe in dié misdaadsyfers tot gevolg hê nie, dit is eerder ’n roekelose besluit wat gewone burgers weerloos laat en bevorder slegs diegene wat buite die grense van die wet beweeg.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist