fbpx

Massaprotes ruk verskeie wêrelddele

Deur on Okt 29, 2019

Nuuskommentaar: 29 Oktober

Verlede Vrydag het sowat een miljoen vreedsame betogers opgeruk na Santiago, die hoofstad van Chili in Suid-Amerika om aan ‘n optog deel te neem. Die omvang van die optog het dié land se regering genoop om onmiddellik hervormings in te stel. In Libanon in die Midde-Ooste het ook ‘n miljoen betogers, sowat ‘n kwart van die land se bevolking, verlede week aan vreedsame optogte deelgeneem. Ook daar moes die regering inderhaas hervormings instel.

Dieselfde patroon van groter as verwagte betogings in verskillende wêreldstreke en in lande waar die dryfvere vir protes oënskynlik min met mekaar verband hou, het oor die afgelope paar weke afgespeel. Behalwe vir Chili en Libanon is Ecuador, Bolivia, Argentinië, Irak, Pakistan, Ethiopië en natuurlik Hong Kong deur soortgelyke betogings geraak. Die omvang hiervan dui op ‘n abnormale nuwe tendens en dit lyk ook toenemend asof hierdie betogings nie deur blitshervormings beëindig gaan word nie. Terwyl die wetgewing in Hong Kong wat die massaprotes daar veroorsaak het, reeds herroep is, gaan die protes voort.

Hoewel die meeste Westerse lande soos die VSA, Europese lande en lande in Australasië grootliks hierdie vlaag betogings vrygespring het, beteken dit ook nie dat daar nie dieselfde behoefte vir protes in baie van hierdie lande bestaan nie.

Daar kan ‘n argument uitgemaak word dat al hierdie protesoptogte geen verband met mekaar het nie en dat dit toevallig redelik opeenvolgend plaasvind. In Irak word protes gedryf deur regeringskorrupsie, hoë vlakke van jeugwerkloosheid en swak dienslewering. In Chili, ‘n heelwat meer welvarende en stabiele land het die verhoging van treinkaartjies die afgelope week se betogings afgevuur. Selfs in vreedsame en welvarende Nederland het die grootste reeks protesoptogte deur boere onlangs plaasgevind.

Terwyl die dryfvere vir protes dus van land tot land verskil is daar wel een goue draad wat almal met mekaar verbind naamlik ‘n groeiende kloof tussen die politieke elite en die gewone burgers. Jacques de Kadt, ‘n voormalige Nederlandse politikus van die Arbeidersparty het reeds in 1939 geskryf oor ‘n soort skynelite aan wie die volk gehoorsaam moet wees sonder dat diensbaarheid en meriete beoordeel word en sonder dat inspraak en politieke deelname moontlik is.

In Sondag se verkiesing in die Duitse deelstaat Thuringia het die sentrumlinkse Sosiaal-Demokrate en die sentrumregse Christen-Demokrate beide ‘n historiese laagtepunt bereik. Die meer ekstreme Linkse-party en die regse Alternatief vir Duitsland het saam meer as 50% van die stemme op hulle verenig. Veral jongmense het in groot getalle ‘n protesstem teen die politieke elite uitgebring. Die stempersentasie was die hoogste sedert Wes- en Oos-Duitsland herenig is.

Terwyl daar rede is om in die meeste wêrelddele van groeiende welvaart en redelike stabiliteit, minstens gesien binne ‘n historiese konteks, te praat, is dit ook duidelik dat daar ‘n internasionale tendens van protes teen politieke elitisme besig is om te ontwikkel. Hierdie protes is nie enkel ideologies nie, maar word deur gebeure ontlont waar gewone burgers sê: Hoe kon dit gebeur en hoe kan ons dit stop? Die antwoord hierop sal waarskynlik orals verskillend wees, maar daar is min rede om te glo dat die protesbeweging binnekort tot ‘n einde gaan kom of dat hulle met min tevrede gaan wees. Daar is eerder genoeg rede om te glo dat die huidige protesbeweging sal groei en groter eise van werklike politieke hervorming sal bly stel.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist