11 Desember 2024
Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika – Acsa – sê hy is gerat vir die feestyfperk wat voorlê.
Dit volg nadat die maatskappy om verskoning aan al die rolspelers en die publiek – wat weens die vertragings vroeër die week verontrief is – gevra het.
Sowat 480 vlugte en 49 429 passasiers is Maandag opgehou, terwyl 31 vlugte gekanselleer is.
Dít weens die probleem met die brandstofaanvulling van vliegtuie op die O.R. Tambo Internasionale lughawe in Kempton Park.
Die onderbreking het minstens 177 vlugte en 22 000 passasiers geraak, voordat dit na ander lughawens en daaropvolgende vlugte ook uitgekring het.
ACSA het in ’n verklaring bevestig dat dit ’n dryfas in die brandstofpypleiding was wat onklaar geraak het en dat dit met die hand oopgemaak moes word voordat brandstofaanvulling weer kon plaasvind.