Louis Liebenberg laat vaar sy borgtogaansoek

Deur on

28 November 2024

Die omstrede diamantsmous, Louis Liebenberg het sy borgtogaansoek vanoggend in die landdroshof in Bronkhorstspruit laat vaar.

Liebenberg, sy vrou Dezzi, en sewe ander mense staan tereg op aanklagte van onder meer bedrog, diefstal, rampokkery en geldwassery. Hy het vandag sy aansoek self hanteer en reeds vroeg in sy verskyning gesê dat hy die aansoek laat vaar.

Dezzi se borgtogaansoek is verlede week van die hand gewys.

Liebenberg het aan die landdros gevra om 20 minute gegun te word om sekere kwessies te bespreek. Volgens hom was hy die afgelope paar dae siek in die tronk, en is steeds, waarna hy die landdros ingelig het dat hy sy aansoek laat vaar.

Hy het aan joernaliste buite die hof gesê dat hy erge rumatiek het, wat vererger word deur die dieet van brood en pap in polisieaanhouding. Volgens Liebenberg het hy die aansoek laat vaar omdat hy nie tans kans sien om so lank te staan terwyl die borgtogaansoek aangehoor word nie.

Liebenberg sê sy prioriteit is nie sy eie aansoek nie, maar dat sy fokus op Dezzi is.

Die saak is tot 4 Februarie uitgestel, en hy bly in aanhouding.

Foto: Skermskoot van video gemaak deur Netwerk24.


Current track

Title

Artist