“Load shedding” eintlik “hope shedding”

Deur on

Nuuskommentaar: 11 Junie

Deur: Willie Spies

Die skrywer Dana Snyman verwys op Facebook na Eskom se “load shedding” as “hope shedding”.

Dis met goeie rede, want mens beleef die moedeloosheid by baie middelklas Suid-Afrikaners wanneer beurtkrag vir die soveelste maal ingestel word, baie intens.

Beurtkrag is nou reeds vir 14 jaar ‘n realiteit in Suid-Afrika.

Die eerste groot kragonderbreking was in Desember 2007, dieselfde maand wat Jacob Zuma die oorhand oor oud-president Thabo Mbeki by die ANC se leierskapskonferensie in Polokwane gekry het, nadat die kernkragsentrale by Koeberg tot stilstand gekom het. Die destydse minister van Openbare Ondernemings uit die Mbeki-era, Alec Irwin het destyds sabotasie die skuld gegee vir die onderbrekings.

Skaars vier maande later in April 2008, het Suid-Afrikaners vir die eerste maal gehoor van die nuwe beurtkrag-reëling, wat nou reeds oorbekend is. Die rede in April 2008 was dat kragstasies geleentheid moes kry om roetine instandhouding van kragopwekkers te doen en dat voorrade steenkool opgebou moes word om gereed te wees vir die komende winter van 2008 (asof Suid-Afrika in 2008 vir die eerste maal winter sou hê).

Maar die instandhoudingsprobleme, tekorte aan steenkool en die krimpende opwekkingskapasiteit het ook ‘n aanloop gehad.

Transnet se kwynende vermoë om die spoor-infrastruktuur vir vervoer van onder andere steenkool vanaf myne na die Hoëveldste kragstasies te vervoer, het gelei tot die daarstelling van ‘n netwerk van padvervoer kontrakteurs wat steenkool met vragmotors vanaf die myne na die kragstasies sou aanry.

Swart ekonomiese bemagtigingsvereistes by die kontraktering van myne wat steenkool verskaf en die verdere kontraktering van padvervoer om steenkool by die kragstasies uit te kry, het natuurlik teen ‘n geweldige koste-premie gekom. Daarvan getuig die geweldige kragpysverhogings van die afgelope aantal jare en die stukkende paaie op Mpumalanga se platteland.

Regstellende aksie het bekwame en ervare tegnici uitgedryf en instandhouding onder druk geplaas.

Tussen Januarie en September 2015 het Suid-Afrika 99 dae van beurtkrag gehad. Die destydse Eskom hoof, Brian Molefe, het kort daarna aangekondig dat ‘n aksieplan in werking gestel is wat beurtkrag iets van die verlede sou maak.

Die voormalige regshoof van Eskom, Suzanne Daniels het in Desember verlede jaar voor die Zondo-kommissie getuig hoe Eskom in Desember 2015 ‘n bedrag van R1,68 miljard aan die Gupta-geaffilieerde steenkoolgroep Optimum Coal vooruituitbetaal het om hulle in staat te stel om te verseker dat die steenkool-aanbod vir die land se kragstasies konstant gehou word.

Molefe se “aksieplan” was dus ‘n fyn uitgewerkte set wat die tafel gedek het vir massale bedrae geld wat aan die Guptas en hulle begunstigdes in besluitnemingsposisies betaal is.

In Mei 2016 het Jacob Zuma, wat toe nog president was aangekondig dat beurtkrag vir eens en vir altyd iets van die verlede was. Die plan het slegs vir twee en ‘n half jaar gewerk, want tot middel 2018 was daar nie weer beurtkrag nie.

Maar in Junie 2018, te midde van ‘n onwettige staking deur lede van die NUM en NUMSA wat by Eskom in diens was, was beurtkrag terug, te midde van aantygings dat die vakbondlede die kragstasies gesaboteer het om stukrag te gee aan hulle eise vir meer geld. 

Die patroon van kragonderbrekings, beweringe van sabotasie en reddingsplanne wat gewoonlik teen ‘n ruim premie aan ‘n beskikbare en gewillige tenderpreneur toegestaan is, het sinoniem geraak met die Eskomprobleem.  

Juis daarom is berigte oor Orania se inisiatiewe vir son-plase en selfstandige plaaslike kragopwekking asook die onderhoud met Eskom se uitvoerende hoof Andre de Ruyter, gister in Beeld oor sy daadwerklike regrukplanne vir Eskom ‘n lig van hoop in die donker Eskomtonnel.

Willie Spies is ‘n prokureur by Hurter Spies Ing. en voorsitter van Pretoria FM

Hoop, Glo, Leef in Afrikaans.
Jou ondersteuning versterk Afrikaanse media. Hou jou taal op die lug.
Klik hier.


Current track

Title

Artist