9 Januarie 2024
‘n 40-jarige man is op die N1 naby Bela-Bela (Warmbad) in hegtenis geneem nadat hy teen ʼn spoed van 225 km/h in ʼn 120 km/h-sone in sy Audi Q7 gejaag het.
Die woordvoerder van die departement van vervoer en gemeenskapsveiligheid in Limpopo, Tidimalo Chuene sê die man het reeds vlugtig in die landdroshof verskyn.
Hy sê nagenoeg 19 mense is sedert die begin van Desember 2023 in Limpopo in hegtenis geneem weens die oortreding van die spoedgrens.
In nog ‘n voorval is ‘n motoris vasgetrek nadat hy 185 km/h in ʼn 80 km/h-sone gejaag het. Volgens Chuene is die inhegtenisnemings ‘n teken dat die provinsiale owerhede nié terugstaan teen motoriste wat nié die padreëls gehoorsaam nie.