“Lesufi faal skole in informele nedersettings, maar maak tyd om Afrikaanse skole te teiken,” sê VF Plus

Deur on

13 Mei 2022

Die VF Plus sê hy betreur die gebrek aan kwaliteit van skole in Gauteng, veral in informele nedersettings, terwyl die Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, tyd maak om Afrikaanse skole te teiken.

Dit kom nadat ontstoke ouers van die Hoërskool Thubelihle in Soweto die skool gedwing het om te sluit weens die toestand van die skool se infrastruktuur.

Volgens die VF Plus se nasionale voorsitter, advokaat Anton Alberts is daar glo gedeeltes van die skool wat in vyf jaar nog nie klaar gebou is nie en van die geboue wat geen deure en vensters het nie.

Alberts sê die party vind hierdie gebeure ironies, veral omdat Lesufi in sy terugvoering aan die Gautengse wetgewerkomitee oor onderwys gesê het dat skole goed bestuur word. 

Alberts sê dit is verder ironies  dat die LUR heelwat tyd bestee aan die teiken van Afrikaanse skole om anderstalige leerders in te neem om die probleem van toegang aan te spreek nie, terwyl Afrikaanse skole in totaal slegs 6% van alle openbare skole in Gauteng uitmaak.

Hy meen selfs indien alle Afrikaanse skole gedwing word om net in Engels onderrig te gee, sal dit nie die toegangsprobleem oplos nie, aangesien die oplossing lê by die opgradering van bestaande skole soos die Hoërskool Thubelihle en die bou van nuwe skole.


Current track

Title

Artist